Meisie glo sy's agter selfmoord
2011-03-08 10:53
Londen – Kuber-boelies het Facebook gebruik om ‘n skoolmeisie in Brittanje te laat glo dat sy ‘n aanlyn-kêrel het en dat sy gevolglik vir sy selfmoord verantwoordelik was.
Die twee 16-jarige meisies het hul komplot begin nadat hulle in ‘n bakleiery met hul slagoffer betrokke was.
Hulle het ‘n fiktiewe Facebook-profiel geskep vir ‘n seun wat hulle Jaydon Rothwell genoem het.
Die kuber-boelies het die profiel gebruik om boodskappe aan die 15-jarige meisie te stuur en het haar oorreed dat hulle besig was om ‘n verhouding te begin.
Die meisies het later boodskappe van ‘n “ander meisie” op Jaydon se blad geskryf, wat daartoe gelei het dat die slagoffer met hom opgebreek het.
Sy het gevolglik die nuus ontvang dat hy selfmoord gepleeg het nadat sy met hom opgebreek het en sy is met boodskappe gebombardeer wat beweer het sy is verantwoordelik vir die tragedie.
Eers nadat die polisie rekords nagegaan het van skielike sterftes, het hulle agtergekom dat Jaydon nooit bestaan het nie.
Die saak, wat na bewering die eerste van sy soort is, plaas die klem op die gevare van kuber-afknouery, het die polisie Maandagaand gesê.
Facebook het jong gebruikers aangemoedig om nie vriend-versoeke van enigiemand te aanvaar wie hulle nie ken nie.
“Daar is geen plek vir boelies en teistering op Facebook nie en ons reageer aggressief op berigte van potensiële misbruik,” het Facebook gesê.
- Daily Mail
Volg Nuus24 op Twitter