Krukke keer hulle glad nie
2011-12-01 09:02
Johannesburg – Op hul krukke of in hul looprame het agt seuns gister gewys hoe hulle ondanks hul gestremdhede ’n sokkerbal kan skop of ’n doel kan afweer.
Die seuns, meestal serebraal gestrem, ondergaan fisioterapie as deel van hul rehabilitasie by die Pretoria-sentrum vir Serebrale Parese (gestremdheid) by die Little Company of Mary-hospitaal in Groenkloof.
Serebrale parese is die naam van ’n groep toestande waar daar versteurings in beweging, balans of postuur is weens ’n defek of skade aan die dele van die brein wat die spiere, balans en vrywillige bewegings beheer.
Dit kan in die baarmoeder al veroorsaak word deur ’n ontwikkelingsabnormaliteit of breinbesering tydens swangerskap, tydens die bevalling of kort nadat die baba gebore is.
Hester Venter, ’n fisioterapeut by die sentrum wat in ontwikkelingsterapie spesialiseer, het gister gesê baie van die seuns wat sy gereeld vir terapie sien, geniet dit om sokker te kyk of te speel.
“Party kan onafhanklik loop en ander loop weer met krukke of ’n loopraam. Dit is vir hulle groot pret om ’n paar doele te skop met ’n sokkerbal ná afloop van hul terapiesessies.”
Venter het dit goedgedink om die jaar af te sluit deur Ricardo Katza van die sokkerklub SuperSport United te nooi om gister saam met die seuns ’n paar balle te skop.
“Dis besonderse kinders hierdie, vol lewenslus en verwagting, ten spyte van hul soms erge gestremdheid.”
Cayd Sofianos (6), wat as baba in ’n motorongeluk breinskade opgedoen het, het dadelik te kenne gegee dat hy ’n Liverpool-ondersteuner is toe hy Katza sien. Hy is swaksiende en loop moeilik.
Nathi Hlebo (9) het weer vanuit sy loopraam laat hoor dat hy Mamelodi Sundowns ondersteun.
Denise Potgieter, ’n ortopediese chirurg by Little Company of Mary, het die sentrum in 2007 begin. Dit is na verneem word die enigste in Pretoria wat ’n eenstop-rehabilitasiediens bied. Sy is steeds daarby betrokke.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld