Kruger-wildtuin se oudste olifant is dood
2011-10-07 14:37
Johannesburg – Die Kruger Nasionale Park se oudste olifant, Duke, wat ouer as 55 jaar was, is dood, het wildtuinpersoneel gesê.
Duke is langs die Makambeni-spruit gevind waar hy op sy sy gelê het, het die wildtuin se woordvoerder, William Mabasa, gesê.
Hy was reeds vyf dae dood toe hy gevind is na die bewaarder Neels van Wyk bekommerd geraak het toe daar geen beweging van Duke se elektroniese halsband was nie.
“Al was Duke baie oud, is ons uiters hartseer oor die bul se dood. Hy was baie gewild en mense het altyd oor hom uitgevra,” het Mabasa gesê.
Duke het in 2010 albei sy tande verloor en is met 'n halsband gemonitor.
Hy het meer as 55 jaar lank in die wildtuin geleef.
Duke is vernoem na die bewaarder Thomas Duke, wat tussen 1903 en 1923 in Sabie gebaseer was.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA