Krok by gewilde swemplek gevang
2010-11-20 19:35
Sydney – Twee Australiese mans het besluit om nie voet in die wind te slaan toe hulle ’n krokodil by ’n gewilde swemplek gewaar het nie – hulle het dit gevang en in hul motor gelaai sodat dit nie ander baaiers in gevaar stel nie.
Die mans het die krokodil van 3,2m lank Woensdag sowat 10km van hul afgeleë inboorling-gemeenskap Gunbalanya in die tropiese noordelike streek Arnhem Land gevind.
“Hulle het dit in die bagasiebak van ’n vierwielaangedrewe voertuig gelaai,” het ’n polisiewoordvoerder Vrydag gesê.
Die mans het die krokodil by die huis van ’n familielid gelos waar hy oornag in ’n poel water in die tuin leeggelê het – met sy kake en pote vasgebind. “Dit wil voorkom of die twee mans geweet het wat hulle doen,” het sy gesê.
Die krokodil het geen beserings opgedoen nie. Die reptiel is later met behulp van bewaringsbeamptes in die East Alligator-rivier losgelaat.
- Sapa - AFP