Kommer oor reuse-dam in Laos
2012-11-06 08:02
Washington – Die VSA het Laos se regering Maandag gemaan om versigtig te wees met planne om 'n dam van miljarde dollars te bou, omdat die impak wat so 'n projek op die gebied kan hê, nog onbekend is.
Die omstrede hidro-elektrisiteitprojek by Xayaburi, wat $3,8 miljard (sowat R33 miljard) sal kos, het groot onmin veroorsaak tussen Laos, Viëtnam, Kambodja en Thailand. Al dié lande maak op die rivierstelsel staat wat dié dam sal moet voed.
"Ons eie ondervinding het ons baie bewus gemaak van die ekonomiese, sosiale en omgewingsfaktore wat groot infrastruktuurprojekte oor die lang termyn kan hê," het die Amerikaanse departement van buitelandse sake gesê.
Die departement het egter ook gesê hy neem kennis van die feit dat die dam ook 'n belangrike rol kan speel in ekonomiese ontwikkeling in die gebied.
"Die omvang... van die impak wat die Xayaburi-dam op die ekostelsel kan hê, wat voedselsekureit en 'n inkomste vir miljoene mense moontlik maak, is steeds onbekend."
Viraphonh Viravong, energieminister van Laos, het vroeër gesê die regering sal later in die week in alle erns met die werk begin.
Die enorme dam, wat die eerste is van 11 soortgelyke projekte wat vir die gebied beplan word, het die afgelope 18 maande groot omstredenheid veroorsaak weens vrese oor die omgewingsimpak wat dit in Laos en omringende lande kan hê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP