Koffie hou vroue se depressie weg
2011-09-27 12:37
Londen – Vroue wat twee of drie koppies koffie per dag drink, is 15% minder geneig om depressie te ontwikkel, het navorsers van die Harvard-universiteit in Amerika bevind.
Dié wat vier of meer koppies per dag gedrink het, het hulle kanse op depressie met 20% verklein.
Gereelde koffiedrinkers is ook minder geneig om oorgewig te wees of aan diabetes te ly, het hulle bevind.
Hulle is egter ook meer geneig om te rook en te drink en minder geneig om aan gemeenskap- of kerkaktiwiteite deel te neem.
Die studie van meer as 50 000 vroue is in die joernaal Archives of Internal Medicine gepubliseer.
Dit is egter nie duidelik hoekom daar ‘n verband tussen koffie drink en ‘n goeie geestestoestand bestaan nie en navorsers skryf nie koffie aan vroue voor nie.
Hulle meen verdere navorsing is nodig om die redes vir die verband uit te klaar.
“Die bevindinge pas mooi by wat ons oor kafeïen en die brein weet,” het Bertil Fredholm, ‘n farmakoloog van die Karolinska-instituut in Swede gesê.
“Ondanks pogings om te bewys hoe sleg koffie vir ons is, is dit nie die geval nie.”
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.