Kitso volg in Oscar se voetspore
2011-11-25 09:01
Pretoria – Dit verg nog groot konsentrasie om met kunsbene te loop, maar klein Kitso Mokolometsa het gister kiertsregop hand-aan-hand met die lemkampioen Oscar Pistorius geloop.
Kitso (4) en sy familie van Potchefstroom in Noordwes het Pistorius gister by sy huis in Pretoria besoek. Sowel Kitso as Pistorius se onderbene is reeds voor hul eerste verjaardag afgesit. Kitso het geen skeenbene gehad nie en Pistorius is sonder kuitbene gebore. Pistorius het wel kniegewrigte, maar Kitso nie.
Die seuntjie het gister skamerig, maar groot-oog, geluister terwyl Pistorius vertel het hy het sy eerste paar kunsbene gekry toe hy 13 maande oud was en dat hy op 19 maande begin loop het.
“Ek was stout toe ek vier jaar oud was,” het Pistorius met Kitso gesels terwyl die seuntjie meer geïnteresseerd in die paralimpiese held se kitaar as sy medaljes was.
Aan Kitso se ouers, Paul en Ontatile, albei verpleërs, het Pistorius gesê dit neem tyd om aan prosteses gewoond te raak.
“Die kinders dra ekstra gewig en dit voel vir hulle of hulle op stelte loop. Dis egter belangrik vir die ontwikkeling van hul spiere om dit so gereeld moontlik te dra.”
Kitso het sy nuutste paar byderwetse kunsbene met Ben 10-motiewe vroeër vanjaar gekry. Volgens sy pa verkies hy steeds om op sy stompies te hardloop en te speel omdat dit vir hom gemakliker is.
Die Mokolometsas wou by Pistorius weet wanneer hy aan atletiek begin deelneem het en of hy in ’n “gewone” skool was. “My ma (Sheila) het gesê daar is geen rede hoekom ek nie na ’n gewone skool kan gaan nie,” het Pistorius vertel. “Hoe gouer Kitso leer hy is ’n normale kind en dat hy vir niemand hoef terug te staan nie, hoe beter.”
Pistorius het vertel hy het op 17 eers ernstig aan atletiek begin deelneem, maar dat hy van jongs af lief was vir sport en reeds op sesjarige ouderdom sy eerste stoeitrofee verwerf het. Hy het ook aan tennis, rugby, krieket en waterpolo deelgeneem.
“Dis belangrik om ’n humorsin te behou,” het die lemnaeler gesê. Hy het vertel hoe sy maats een keer op kosskool sy kunsbene weggesteek en gemaak het of daar ’n brand is. Pistorius moes al skarrelende vir sy kunsbene rondsoek.
Hy het die Mokolometsas genooi om hom enige tyd vir raad te kontak.
Pistorius vertrek vandag na Europa vir borge-verpligtinge en gaan Kersdag oefen, het hy gister gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad