Kitsboodskapdienste dalk gereguleer
2011-09-06 09:05
Kaapstad – Selfoongebruikers se kitsboodskappe kan strenger gereguleer word te midde van ’n toename in kubermisdaad.
Dié moontlikheid is Maandag deur Kopeng Obed Bapela, adjunkminister van kommunikasie, op ’n telekommunikasie-konferensie in Oos-Londen geopper. Hy het ’n beroep op kenners gedoen om te sê of sosiale boodskapdienste soos BBM (gratis boodskappe tussen Blackberry-gebruikers) en WhatsApp gereguleer moet word.
Insette is ook gevra wat die regering sal help met die formulering van ’n beleid en ’n regulatoriese raamwerk.
The Times het berig Suid-Afrika kan in Brittanje en Saoedi-Arabië se voetspore volg met ’n ontsyferingstelsel vir sosiale boodskapdienste.
Dit volg ook op die onlangse protesoptogte in Londen, waar die polisie BBM’s ontsyfer het om vas te stel waar die optogte beplan word.
Bapela het die versekering gegee dat daar nie op mense gespioeneer sal word nie, maar het gesê die doel is om ’n voorkomingsbeleid te skep in gevalle waar ernstige misdade vermoed word.
Dié nuus het reeds gemengde reaksie op internet-geselsplatforms soos mybroadband uitgelok. In sekere boodskappe is kommer oor mense se reg op privaatheid uitgespreek.
Een persoon het gesê dit is ’n gevaarlike stap.
“Prosedure moet gevolg word en daar moet ten minste ’n vermoede of bewyse wees voordat BBM’s nagegaan kan word.”
Sizwe Snail, ’n regskenner in kuberreg en -veiligheid, het gesê só ’n oorweging tas die kern van die Grondwet aan. “Elkeen het ’n reg op privaatheid wat net onder sekere omstandighede beperk mag word.
“Die onderskepping van telefoongesprekke en ander data is onder normale omstandighede onwettig.”
Daar is wel uitsonderings, maar slegs ’n hof kan so ’n bevel toestaan.
Volgens Snail was die protesoptogte in Londen ’n soort noodgeval. “Protesoptogte wat dreig om handuit te ruk, soos die onlangse jeugliga-geweld, sal ingevolge die wet as regverdiging aangevoer kan word, maar die hof moet steeds besluit.”
Hy het verwys na die onlangse hofsaak van Sheryl Cwele, vrou van die minister van staatsveiligheid, waar die hof ook ’n onderskeppingsbevel toegestaan het in ’n geval waar ernstige misdaad vermoed is.
“Die regering het dus nie carte blanche in die onderskepping van boodskappe nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger