Kerk: Moenie per telefoon oor sondes bieg
2010-08-17 23:51
Kaïro - Die hoof van Egipte se Koptiese kerk het sy gemeentelede aangeraai om nie per telefoon oor hul sondes te bieg nie, berig die koerant Al-Masri Al-Yawm.
Pous Shenuda III het gesê sekerheidsdienste kan dalk dié gesprekke afluister.
"Waak daarteen om nie per telefoon oor jou sondes te bieg nie omdat sekerheidsdienste van die staat all die gesprekke opneem."
"Anders sal jy vergifnis in die tronk by die polisie moet soek, eerder as by jou plaaslike priester," het die pous Sondag tydens 'n kerkdiens aan gemeentelede gesê.
Volgens die koerant verwys Shenuda III na lede van die kerk wat oorsee reis en diegene wat na 'n nuwe adres verhuis het en dikwels die telefoon gebruik om kontak met hul plaaslike priester te behou.
Die hoof van die Koptiese kerk het twee jaar gelede gewaarsku dat 'n bekentenis wat op die internet gemaak nie geldig is nie, "omdat almal dit kan sien en dit nie langer 'n geheim is nie".
Volg Nuus24 op
Twitter
- AFP