Kenners krap steeds kop oor vreemde siekte
2012-07-08 10:09
Phnom Phen – Kenners in Kambodja sit met hulle hande in hulle hare oor 'n vreemde siekte in dié land wat al die lewe van tientalle kinders geëis het – sommige van hulle binne 24 uur ná hulle gehospitaliseer is.
Mediese deskundiges probeer hul bes om vas te stel wat die presiese aard van die siekte is wat sedert April al 56 jong seuns en meisies, die meeste van hulle kleuters, se dood veroorsaak het.
Slegs een kind het al die siekte oorleef, het amptenare gesê, en geen gevalle van die siekte is al buite die grense van Kambodja aangemeld nie.
"Ons kyk na besonderhede van hospitaalrekords en analiseer elke liewe geval. Ons hoop om in die volgende paar dae 'n beter prentjie te hê," het Ly Sovann, adjunkdirekteur van Kambodja se Departement vir die Beheer van Aansteeklike Siektes, Vrydag in 'n gesamentlike verklaring met die Wêreldgesondheidsorganisasie gesê.
Die pediater Beat Richner, stigter van 'n groep kinderhospitale, was die eerste om die siekte onder die wêreld se aandag te bring.
Die slagoffers is gewoonlik sewe jaar en jonger en die meerderheid van slagoffers is tussen die ouderdom van twee en drie, het Richner aan AFP gesê.
"Al hierdie kinders het inflammasie van die brein en in die latere stadium ontwikkel hulle ernstige longontsteking met vernietiging van die alveoli in die longe. Dit is hoekom hulle sterf," het hy gesê.
"Ons dink dit is 'n virus, of vergiftiging, of albei," het Richner gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP