Kees verruil stad vir wildsplaas
2009-11-12 10:09
Hilda Fourie
Pretoria - ’n Volwasse bobbejaanmannetjie wat sowat vier weke lank in Pretoria rondgedwaal het, het die stadslewe gister vir ’n wildplaas in Lephalale (Ellisras) verruil.
Dié bobbejaan is die afgelope twee weke onder kwarantyn by die Nasionale Dieretuin in Pretoria aangehou.
“Nou het hy ’n 50/50-kans op oorlewing. Hier in die stad sou sy kanse zero gewees het. Iemand sou hom uitgesit het,” het Hencke Marais van Tshwane-natuurbewaring se spesialiteitsdienste gister gesê.
Volgens Marais sal die bobbejaan by sy nuwe tuiste by Newlands Safari’s ’n trop mannetjies moet uitdaag. Wen hy, kan hy die hiërargie oorneem en ’n nuwe genepoel begin. Verloor hy, kan hy vrek.
“Maak nie saak wat gebeur nie, dit sal die natuur se manier wees. Meer as dít (om die bobbejaan terug in die natuur te kry) kan ’n mens nie doen nie. Ek dink tog hy het ’n goeie kans,” meen Marais.
Die bobbejaan van 28,8kg is twee weke gelede gevang nadat hy sowat ’n maand tussen Pierneefrand, Riviera, Silverton, Murrayfield en die Skuilkranskoppies rondbeweeg het.
Hy is twee weke lank aangehou terwyl Marais dokumentasie gereël het om hom na Limpopo te neem.
Dr. Adrian Tordiffe, ’n kliniese veearts by die dieretuin, het hom gisteroggend verdoof. Hy was binne tien minute aan die slaap, waarna Tordiffe haar- en bloedmonsters geneem het vir toekomstige navorsingsprojekte.
Die bobbejaan is daarna in ’n kas op Marais se bakkie gelaai voordat hulle die pad noorde toe aangepak het. Hy is laat gistermiddag vrygelaat.
- Beeld