Kat stap 3 000 km terug huis toe
2011-11-09 09:07
Sydney. – ’n Kat wat huis toe verlang het, het 3 000 km ver uit die verre noorde van Australië na die ander kant van die vasteland gestap.
Dit het Jessie byna 15 maande geneem om te stap van ’n plaas naby Darwin in die Noordelike Gebied tot by die woning in Adelaide, Suid-Australië, wat sy as haar tuiste verkies, het me. Sheree Gale, Jessie se eienaar, gesê.
Toe Gale verlede jaar na Darwin verhuis het, het sy twee katte, Jessie en Jack, gehad.
Jack het weggeloop.
Die gesin wat Gale se huis in Adelaide gehuur het, het haar egter gebel en gesê Jack het teruggekom huis toe.
“In Mei kontak hulle my toe weer en sê Jessie het ook opgedaag. Dit is definitief sy op die foto wat hulle gestuur het.”
– Volg Nuus24
op Twitter.
- Beeld