Kaptein se brief in 'n bottel spoel uit in Kaapstad
2013-01-16 12:30
Kaapstad – Toe die kaptein van 'n duikboot 'n brief in 'n bottel in die middel van die Atlantiese Oseaan oorboord gooi, het hy nie gedink hy gaan dit ooit weer sien nie.
Maar twee jaar en twee maande later is kommodoor Darren White se brief opgetel deur 'n pa en seun wat langs Pringlebaai – 1 600 seemyl van waar dit gegooi is – gestap het.
White, die kaptein van die SAS Charlotte Maxeke, het aan die Cape Times gesê hy was besig met oefeninge met Suid-Amerikaanse vlote en het besluit om op pad terug 'n brief in 'n bottel te skryf.
"Ek het 'n wynbottel gehou van 'n funksie wat ons in Argentinië gehou het. Ek het 'n boodskap uitgetik, 'n foto van die bemanningslede bygevoeg en dit in 'n plastieksakkie in 'n bottel gesit."
Die kaptein het gesê die bemanningslede het gelag toe hy die bottel oorboord gooi.
Volgens die berig is die bottel verlede Saterdag op 'n strand sowat 20 seemyl van White se vlootbasis in Simonstad opgetel.
"Enigiets kon met daardie bottel gebeur het, maar dit het al die pad teruggekom. As ek by die werk [in Simonstad] staan, kan ek oorkyk na die plek waar dit uitgespoel het," het 'n ingenome White gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA