'Kanker-ontploffing' in SA verwag
2012-07-07 12:02
Kaapstad – Die land se openbare gesondheidstelsel moet hom voorberei vir 'n "ontploffing" in die voorkoms van nie-aansteeklike siektes soos kanker, het Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, Vrydag gesê.
"Die hele wêreld gaan 'n ontploffing in nie-aansteeklike siektes, onder andere kanker, ervaar. Om te beplan vir kanker is om te beplan vir die toekoms," het hy aan verslaggewers by die iThemba Labs-navorsingsentrum in Kaapstad gesê.
Hy het gesê die gesondheidsdepartement moet in nuwe tegnologie belê om dié siektes te behandel.
Die Nasionale Navorsingstigting (NRF), wat die laboratorium bestuur, het die minister genader om te vra vir befondsing vir 'n deeltjieversneller wat gebruik kan word om kankergewasse te behandel.
Met dié soort terapie, wat as protonterapie bekendstaan, word 'n gelaaide deeltjie teen 'n baie hoë spoed na 'n spesifieke deel van die liggaam gestuur.
Een van die grootste voordele van protonterapie is die vermoë om gewass te teiken sonder om die omringende weefsel te beskadig.
"Ons ooreenkoms is dat ek moet teruggaan en my huiswerk moet doen om te sien hoe ons gaan saamwerk, so ons het nog nie [enigiets] gereël nie."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA