Kamikaze-skeepswrak by Japanse kus gevind
2011-10-27 23:07
Tokio – ‘n Skeepswrak uit die dertiende eeu van ‘n Mongoolse skip wat Japan wou inval, maar die slagoffer van ‘n tifoon bekend as die “kamikaze” of “goddelike wind” was, is naby Japan se suidelike kus gevind.
Die kiel van ‘n hout vaartuig is onder die seebodem naby Nagasaki gevind, het die Mainichi Shimbun en ander media berig. Daar is glo meer as 4 000 vaartuie deur Kublai Khan gestuur om Japan mee oor te neem.
Die vloot wat Japan in 1281 wou inval, is glo gesink deur ‘n kragtige tifoon wat in Japan bekendheid gewerf het as die “kamikaze” – ‘n “goddelike wind” wat die verkose bevolking beskerm het.
Die wrak is sowat ‘n meter diep onder modder begrawe. Dit is gevind deur ‘n span wat deur Yoshifumi Ikeda, ‘n professor van argeologie aan die Universiteit van die Ryukyus in Okinawa, gelei word.
Kenners reken die vaartuig was sowat 20 m lank voordat dit naby die Takashima-eiland in die noordelike provinsie van Nagasaki gesink het.
Die Mongoolsbeheerde Yuan-vorstehuis het op twee geleenthede, in 1274 en in 1281, probeer om samurai-vegters van Japan te verower.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP