Kalfie soek renoster-ma wie se horings afgesaag is
2010-07-15 06:40
Amanda Roestoff en Elise Tempelhoff
Beeld
Johannesburg – Die laaste volwasse renoster is in die Krugersdorp-wildtuin vir haar horings gestroop.
Haar agt maande oue kalfie, wat nog aan haar gedrink het, het agterna verward rondgehardloop op soek na haar.
Japie Mostert, wildbewaarder en bestuurder van die wildtuin, het die karkas eergister laatmiddag by ’n drinkplek naby die woonwapark gekry.
“Nou kan julle my ook maar doodmaak, dan is als nou dood,” het hy bewoë gesê.
Twee van die wildtuin se renosters is in Januarie gestroop en een in Junie verlede jaar.
Ondersoekers op die toneel het gesê die nege jaar oue koei is met ’n doofpyl in die nek getref.
Hulle vermoed sy was al dood toe die stropers haar horings afgesaag het.
Terwyl die ondersoekers die toneel op soek na leidrade gefynkam het, het die kalfie twee keer na haar ma kom soek.
Ed Hern van die Renoster-en-leeupark, wat ook vanjaar renosters verloor het, het gister gesê iets drasties moet nou gedoen word.
Hy het verneem stropers het gisternag op verskeie plekke in die land toegeslaan én dat ’n renoster ook naby Mafikeng gestroop is.
’n Vermeende stroper is ook eergisternag in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem nadat hy skote geskiet het.
“Dit is nou oop seisoen. Die stropers weet ons is op soek na hulle. Nou slaan hulle op dieselfde tyd op drie verskillende plekke toe. Ons bloed kook.”
Volgens Hern het hy veiligheidswagte wat dag en nag op al die koppies op sy grond met versterkte verkykers sit en sy plaas dophou.
Sy plaas is langs die Lanseria-lughawe.
Ao. Solomon Sibiya, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is weens die voorval in hegtenis geneem nie.
“Die polisie volg leidrade op.”
SANParke het intussen gesê ’n Mosambieker is Maandagaand in die wildtuin gearresteer nadat hy met ’n jaggeweer skote geskiet het.
Veldwagters het die gebied gefynkam, maar kon geen karkas kry nie.
Die arrestasie kom nadat vier mans Saterdag met ’n “vars” renosterhoring in hul besit by die Manyeletidam aan die wesgrens van die wildtuin in hegtenis geneem is.
Dr. David Mabunda, SANParke se uitvoerende hoof, het gesê die bewaringsowerheid sal renosterstropers en hul “ryk base in die bosse, lughawens, stede en internasionaal jag”.
126 renosters is sedert begin vanjaar landwyd gestroop.
Volg Beeld op Twitter.
- Beeld