Kaapstad kort geld vir bobbejane
2009-11-18 10:06
Kaapstad – Die stad Kaapstad benodig dringend R1,8 miljoen om sodoende die bobbejaan-moniteringsprojek tot einde Junie 2010 te kan bestuur.
Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid het gesê die stad, sowel as die nasionale en provinsiale regerings moet elk R600 000 bydra, om die projek moontlik te maak.
Die stad Kaapstad het egter twee ander sfere binne die regering vir hul verbintenis teen 7 Desember gevra.
Sedert Oktober verlede jaar, was die stad die enigste owerheid wat ‘n bydra gelewer het tot die bobbejaan-moniteringsprojek.
Hulle het oor 14 maande ongeveer R3,1 miljoen aan die projek toegeken.
Volgens Nieuwoudt is besprekings reeds met Buyelwa Sonjica, minister van omgewingsake en waterwese gevoer, sowel as met die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke).
Hulle almal het aanvaar dat hulle ‘n gesamentlike verantwoordelikheid teenoor die projek het, en het ooreengekom om geld te skenk en spesialis bestuursvaardighede te verleen.
Geen fondse is tot op hede vanaf die provinsiale of nasionale regerings ontvang nie.
Maar Neuwoudt het gesê indien die provinsiale en nasionale regerings fondse bydra, sal dit net ‘n tussentydse ooreenkoms wees.
Daar is meer as 400 bobbejane in die Skiereiland. Bobbejane wat in stedelike omgewings woon, word gereeld doodgeskok op kragdrade, geskiet of deur motors doodgery.
- Sapa