Jou sel se nommers is dalk op Facebook
2011-08-16 07:02
Pretoria – ’n Herrie het die laaste paar dae losgebars nadat Facebook-gebruikers wat dié netwerk op hul selfone gebruik, besef het al die kontaknommers op hul selfone word op hul Facebook-profiele gelys.
Mense het op Facebook, ander internet-forums en blogs daarteen uitgevaar en dit as skending van hul privaatheid bestempel.
Facebook se bestuur het egter gesê dié funksie is al byna ’n jaar lank in werking, maar mense het dit nou eers agtergekom en dat jou kontaklys nié vrylik op die internet of aan jou vriende beskikbaar is nie.
Discovery News het Maandag op hul webtuiste (dsc.discovery.com) gesê Facebook-gebruikers stuur tans boodskappe aan hul vriende om hulle oor dié funksie te waarsku en om hulle in te lig oor hoe om dit af te skakel.
Facebook se bestuur het vandeesweek in ’n amptelike verklaring gesê as jou foon se kontaknommers op jou Facebook-profiel verskyn, is dit nie sonder jou toestemming daar geplaas nie.
“Gerugte dat jou selfoon-kontaknommers op Facebook vir alle Facebook-gebruikers sigbaar is, is vals,” lui die verklaring.
Dié persoonlike kontaklys, wat voorheen as die Phonebook-funksie bekendgestaan het, is volgens Facebook al lank deel van gebruikers se profielblaaie.
“Die kontaknommers wat op jou profiel verskyn is óf deur jou Facebook-vriende daar geplaas, óf het daar verskyn nadat jy toestemming gegee het om jou selfoon-kontakte met jou Facebook-vriende te sinchroniseer,” lui die verklaring.
- Om die lys kontaknommers op jou Facebook-profiel te sien, kliek op “Account”, dan op “Edit Friends” en dan op “Contacts” aan die linkerkant van die blad.
- As jy dié kontaklys van jou vriende se selfoonnommers van jou profiel wil verwyder, kliek op die skakel “This page” aan die regterkant van laasgenoemde blad en kies dan op die volgende blad die opsie “Remove”.
– Volg Nuus24 op
Twitter
- Beeld