Want jou baas hou jou op Facebook dop
2011-04-06 16:00
San Francisco - Reppler het Dinsdag ‘n nuwe diens bekendgestel wat gebruikers se Facebook-beelde bietjie met ‘n waslap bykom en die alkohol van die asems afborsel, want dit is waar base kyk wie werke kry.
Reppler waarsku gebruikers oor boodskappe en foto’s wat die beeld kan beskadig en leer ook watter inligting liewer uitgelaat moet word.
“Mense is besorg oor die beeld wat hulle uitstuur,” het Vlad Gorelik, stigter van Reppler, gesê.
Dit is toenemend algemeen vir werkgewers om op kandidate se Facebook-profiele rond te sluip voor hulle die kontrak aanstuur.
Die gratis sagteware analiseer inhoud wat gebruikers en hul vriende uitbasuin en stel die skuldiges in kennis as hulle afstootlik, ongelukkig of kwaai voorkom.
Lastige tydaanwysers wat wys speletjies soos “Farmville” word tydens werksure gespeel kan ook teen jou tel.
‘n Gevloek en verwysings na die vorige aand se dronkgelag is ook glo ‘n verkeerde merkie op enige werkaansoek.
“As jy in ‘n kroeg werk is dit normaal,” het Gorelik gesê, “maar dit sal nie so goed afgaan by ‘n konserwatiewe regsfirma nie.”
Hy reken wat op Facebook kom, kan net sowel op die hoofstraat uitgeskree word.
‘n Microsoft-opname het bevind sowat 70% van werkgewers het al kandidate uitgeskakel weens minder vleiende aanlyngedrag.
Die nuwe sagteware sal glo die Facebook-beeld met ‘n parfuumreukie laat en die sogenaamde “Google Handshake” met werkgewers stewig en waardig maak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP