Japan weer reg om walvis te jag
2010-06-29 09:50
Die Burger
Johannesburg – Japanse “wetenskaplike” walvisjagters maak gereed om oor ’n paar maande – soos die afgelope 24 jaar – weer in die Suidelike Oseaan walvisse te jag.
Dit kom nadat die Internasionale Walvisjagkommissie (IWK) se 88 lidlande verlede week op sy 62ste vergadering ’n dooiepunt bereik het oor die opheffing van die moratorium van 24 jaar op kommersiële walvisjag, asook ’n algehele verbod op die jag van dié soogdiere.
Die Humane Society International (HSI), ’n dierewelsynsorganisasie met 10?miljoen ingeskrewe lede, het dié naweek in ’n verklaring gesê hy is “verlig” die IWK het nie die verbod op kommersiële walvisjag opgehef nie. Die HSI gaan hom vir ’n algehele verbod op walvisjag beywer.
Die IWK-voorsitter, die Chileen mnr. Christian Maquieira, het kort voor die byeenkoms voorgestel die verbod op kommersiële walvisjag – wat van 1986 dateer – moet opgehef word.
Só sal die kommissie groter beheer oor veral Japan se walvisjagtery in die Suidelike Oseaan – by Antarktika – kry.
Japan gebruik ’n skuiwergat in die moratorium en die IWK-grondwet om vir “wetenskaplike” doeleindes walvisse te jag – in die Suidelike en Noordelike Halfronde.
Die HSI sê ook: “Ons het na Agadir (Marokko) gekom om die voorstel (dat die moratorium opgehef word) teen te staan. Ons het nie net hierheen gekom omdat ons miljoene gewone mense verteenwoordig nie. Dis dié mense wat nie wil sien dat walvisse weer (soos in die 20ste eeu) vir kommersiële gewin geslag word nie.
“Ons was suksesvol omdat die moratorium steeds geld. Ons weet ook die internasionale burgerlike gemeenskap verag en veroordeel dié lande (Japan, Noorweë en Ysland) wat voortgaan om walvisse te jag.”
Die Wêreldnatuurfonds (WWF), wat veral teen walvisjag in die Suidelike Oseaan gekant is, het in reaksie gesê die IWK bewys weer hy is ’n tandelose en “irrelevante” organisasie.
Die WWF is ongelukkig omdat IWK-lede die hele week met geslote deure vergader en nie-regeringsorganisasies uitgesluit het.
“Die IWK staan al etlike jare lank stil. Dit het tyd geword dat dié organisasie sy mandaat – die bewaring van walvisse – nakom. Politiek seëvier weer oor die bewaring van walvisse.”
- Die Burger
- Die Burger