‘Jammer, jy is nie mooi genoeg nie’
2011-06-21 09:12
Londen – ’n Webwerf wat daaraan gewy is om aantreklike mense bymekaar te bring moes 30 000 minder mooi lede se lidmaatskap beëindig nadat ’n rekenaarvirus moles gemaak het.
Die maatsoekwebwerf BeautifulPeople.com roem hom daarop dat net “aantreklike mans en vroue” toegelaat word om aan te sluit.
Bestaande lede stem oor nuwe lede, op grond van hul voorkoms. Die Shrek-virus – wat genoem is na die fliek oor hoe voorkoms nie moet saak maak nie – het verlede maand die webwerf se keuringsagteware aangeval en ongeveer 30 000 nuwe lede toegelaat.
Dié lede se rekenings is nou gesluit. ’n Hulplyn is ingestel waar beraders hulle help om die verwerping te hanteer.
“Ons moet bly by die beginsels dat ons net mooi mense aanvaar, dis waarvoor ons lede betaal,” het Greg Hodge, besturende direkteur, gesê.
“Ons kan nie net 30 000 lelike mense onder die mat vee nie.”
Hulle het agterdogtig begin raak toe tienduisende nuwe lede binne ses weke toegelaat is, waarvan verskeie “nie juis mooi” was nie, het Hodge gesê.
Dis nie die eerste keer dat BeautifulPeople.com se optrede as omstrede beskou word nie.
Verlede jaar is sowat 5 000 lede se rekenings gesluit omdat hulle blykbaar gewig opgetel het oor die Kerstyd.
Die webwerf het sowat 700 000 lede in 190 lande. Gemiddeld een uit sewe mense se aansoek om lidmaatskap word verwerp.
– The Guardian
- Beeld