Internetreuse ry saam op Facebook-golf
2012-02-03 14:17
New York – Facebook se planne vir 'n aanvanklike openbare aanbod is veel meer as net goeie nuus vir dié sosiale netwerk.
Maatskappye wat met die internetreus geassosieer word – selfs net op verlangse wyse – se aandele het Donderdag die hoogte ingeskiet, berig die tegnologieblog Mashable.
Volgens 'n dokument wat by die VSA se Securities and Exchange Commission (SEC) ingedien is, wil Facebook sowat $5 miljard (ongeveer 38 miljard) insamel in 'n aanvanklike openbare aanbod wat waarskynlik die grootste deur 'n internetmaatskappy sal wees sedert Google in 2004 genoteer is.
Dié nuus, wat oor die wêreld heen opslae gemaak het, het Donderdag ook vir ander internetmaatskappye die dollars laat inrol.
Zynga, die maatskappy agter gewilde Facebook-speletjies soos Farmville, se aandeelprys het met 'n allemintige 16.84% gestyg.
LinkedIn, 'n sosiale netwerk vir professionele mense, het ook die golf gery, en het sy aandeelprys met 6.37% sien styg – ten spyte van die feit dat hy geen direkte verbintenis met Facebook het nie.
Ander internetmaatskappye, soos Groupon, Netflix en Pandora, se aandeelpryse het ook gestyg.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.