Internetgebruikers trap Google+ se drumpel deur
2011-09-27 13:26
New York – Google+ se drumpel is die afgelope week platgetrap soos gebruikers instroom na die sosiale netwerk, wat nou vir almal oopgestel is, het ‘n internet-maatskappy gesê.
Aanlynverkeer na Google se sosiale netwerk het Woensdag met 1 269% gestyg ná die internet-reus sy beleid van toegang per uitnodiging laat vaar het.
Experian Hitwise, 'n maatskappy wat internet-verkeer dopou, het gesê Google+ is verlede week sowat 15 miljoen keer besoek teenoor 1.1 miljoen keer die vorige week.
Hitwise se data het egter nie data van draagbare toestelle ingesluit nie.
“In slegs ‘n week het Google+ van die 45ste plek op ons lys vir die mees besoeke sosiale netwerk na die 8ste plek gestyg,” het die hoof van die maatskappy, Heather Dougherty, gesê.
Google het op 20 September sy poorte aan almal oopgestel om beter kompetisie vir Facebook te bied.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP