Internet-verslawing probleem onder tieners
2011-05-20 12:15
Kaapstad – Een in elke 25 tieners het ‘n “onweerstaanbare behoefte” om op die internet te gaan, raak gespanne as hulle nie aanlyn is nie of het al probeer om minder tyd op die internet deur te bring, het ‘n Amerikaanse studie getoon.
Die studie, wat onder meer as 3 500 hoërskoolleerders in Connecticut in die VSA uitgevoer is, het gevind dat daardie leerders met “problematiese internet-gebruik” meer geneig was as hul vriende om depressief en aggressief te wees en om dwelms te gebruik.
Nietemin het die studieleier, Timothy Liu van Yale Universiteit, en sy kollegas gesê hulle kan nie ‘n “oorsaak en gevolg” verband tussen internetgebruik, depressie en dwelmgebruik bewys nie.
“Problematiese internetgebruik kan teenwoordig wees in sowat 4% van hoërskoolstudente in die VSA,” het hulle in die Journal of Clinical Psychology geskryf.
“Dit kan verband hou met depressie, dwelmgebruik en aggressiewe gedrag. Hoërskoolseuns spandeer moontlik meer tyd op die internet en is waarskynlik minder bewus van die verwante probleme.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters