Internet op hol oor polisielede wat uiltjie knip
2011-08-18 09:09
Johannesburg – Twee foto’s van skynbaar slapende polisiebeamptes maak opslae in die kuberruim.
Veral die foto van ’n polisieman wat agteroor op sy stoel lê met sy mond oop en sy vuurwapen en koeëlvaste baadjie langs hom, is op verskeie sosiale netwerke gepubliseer.
Die radio- en TV-aanbieder Gareth Cliff het gister op Facebook oor dié foto gesê: “Hawu! Genl. Bheki gaan hospitaal toe vir ’n dag en die polisie slaap met hul vuurwapens uit...”
Dit is nie bekend waar of wanneer dié foto, asook een van ’n vrouebeampte wat voor haar telefoon op haar arms lê, geneem is nie.
Die Burger het dié foto’s aan kol. Neville Malila, Gautengse polisiewoordvoerder, gestuur.
Hy het dit aan die interne dissiplinêre eenheid van die Gautengse polisie gestuur om die egtheid daarvan te ondersoek asook om te bepaal wie die beamptes is.
“Dit is ernstige wangedrag vir ’n polisiebeampte om aan diens te slaap. ’n Beampte kan daarvoor ontslaan word,” het Malila gesê.
Hy het mense dit op die hart gedruk om die polisie te kontak as hulle inligting het oor wie die betrokke beamptes is sodat die polisie hulle kan vasvat.
Kliek hier om na die foto te kyk.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger