Indringerbome nou skoolbanke vir kinders
2013-01-25 09:57
Johannesburg – ’n Onwelkome boomsoort het welkome verligting vir skoolkinders gebring wat gewoonlik moes skarrel om sitplek in die klas te kry, is Vrydag berig.
Die departement van omgewingsake het 253 skoolbanke van rooibloekombome gemaak en dit Donderdag aan die Boitumelo Secondary School in Ficksburg, in die Vrystaat, geskenk, berig Beeld.
Elliot Mhlophe, hoof van dié skool met 1 200 leerlinge, het ook vertel dat dit elke dag ’n geskarrel vir plek was.
Volgens Mhlophe is die nuwe banke te danke aan Rejoice Mabudafhasi, adjunkminister van omgewingsake, wat die sukkelende skool “aangeneem” het.
“Sy het lewe in die skool ingeblaas.”
Mabudafhasi, wat self ’n onderwyser was, het by die skool gesê die rooibloekomboom het ’n slegte uitwerking op die water en grond.
“Ons moes die bome uit die omgewing kry. Ons wou dit nie weggooi nie. Ons wou iets daarmee doen.”
Van die 348 indringerbome wat hulle in die land geïdentifiseer en uitgehaal het, het die departement al onder meer skoolbanke, doodskiste, kieries en houtbeeldjies laat maak, het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA