Indonesië sien rooi oor BlackBerry-porno
2011-01-09 18:05
Jakarta - 'n Dreigement deur owerhede in Indonesië om BlackBerry-dienste op te skort as die maatskappy nie toegang tot pornografiese webwerwe blok nie, het Sondag tot verskeie aanlyn-protesaksies gelei.
Dié verwikkeling is die jongste storm waarin die BlackBerry-vervaardiger Research in Motion (RIM) hom bevind, met 'n paar regerings oor die wêreld heen wat sukkel om internetgebruik deur Blackberry-eienaars te monitor.
Tifatul Sembiring, Indonesië se minister van kommunikasie en inligtingstegnologie het aan RIM 'n grasieperiode van twee weke gegee om toegang tot pornografiese webwerwe te blok of beperk, het die plaaslike media berig.
"Ons het hulle al verskeie kere gevra om dit te doen en het hulle al genoeg tyd gegee," het Sembiring volgens 'n berig in die Jakarta Globe-koerant gesê.
"As hulle dit aanhou uitstel sal ons hulle werksaamhede hier tot 'n einde bring want hulle versuim om ons wette te gehoorsaam," het hy bygevoeg. Besonderhede oor hoe streng die beheermaatreëls moes wees, is nie gegee nie.
Sy verklaring het egter Sondag groot ongelukkigheid veroorsaak op die mikroblog-netwerk Twitter.
"Kan jy verseker dat die vloei van pornografie sal ophou wanneer BB geblok is?" het een gebruiker, @Tiffanywilliam, geskryf. Talle ander het ook hul ontevredenheid uitgespreek.
Indonesië is die land met die wêreld se vierde grootste bevolking en het ongeveer 40 miljoen internetgebruikers.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP