Indië vrees rebelle gebruik BlackBerry's
2010-08-30 12:09
Nieu Delhi – Indië se top-beamptes van telekommunikasie en sekuriteit sal Maandag met die vervaardiger van BlackBerry vergader, wat moontlik tot die verbanning van die foon kan lei.
GK Pillai, 'n hoogeplaasde in die departement van binnelandse sake, sal ‘n vergadering met kollegas van telekommunikasie en sekuriteitsdeskundiges lei om Indië se volgende stap te besluit.
As die Blackberry-vervaardiger nie ‘n wyse kry waarop sekuriteitsagentskappe die data wat gestuur word kan ontsyfer nie, sal die regering stappe teen hulle begin neem.
Die regering het vroeër dié maand gewaarsku dat hulle e-posse en boodskappe sal blok wat deur BlackBerry’s gestuur word indien dit nie kan ontsyfer word nie.
Indië, wat met hul eie rebellegroepe en bedreigings van terroristegroepe in Pakistan sukkel, is bekommerd dat BlackBerry’s moontlik deur rebelle gebruik kan word.
Hulle is bekommerd dat indien hulle nie dié fone monitor nie, sal die fone deur rebelle gebruik word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP