Impotensie kan vroeg waarsku teen hartprobleme
2011-09-13 14:32
New York – Navorsers in China het bevind seksuele impotensie kan ‘n onafhanklike vroeë aanduiding wees of mans aan hartprobleme sal ly.
Wetenskaplikes het lank reeds bevind daar bestaan ‘n verband tussen impotensie, of ereksieprobleme, en hartgesondheid.
Navorsers het egter nou met ‘n teorie vorendag gekom wat voorstel dat are in die penis vroeër verstop as are in die hart, en dus op koronêre bloedvatsiekte aandui.
Die hoofnavorser Jia-Yi Dong en sy kollegas van die Soochow-universiteit in China het twaalf studies oor die hart kombineer om hul teorie te staaf.
“Ons studie het bevind impotensie verhoog die risiko van hartprobleme aansienlik en die verhoging is waarskynlik onafhanklik van ander kardiovaskulêre faktore,” het die navorsers in die Journal of the American College of Cardiology geskryf.
Die navorsers het gesê die verband kan nie aan ander gesondheidsrisiko’s soos rook, diabetes, gewig of hoë bloeddruk toegeskryf word nie.
Hulle het bevind mans met impotensie het ‘n 48% groter kans om hartsiektes te ontwikkel as mans wat nie seksuele disfunksie ervaar nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters