Immergewilde Halo-reeks weer 'n treffer met speletjie-verslaafdes
2012-11-14 07:40
Los Angeles – Die videospeletjie Halo 4, wat deur Microsoft vervaardig word, het ‘n stewige $220 miljoen (sowat R1,9 miljard) op sy eerste dag van verkope verdien.
Die speletjie het sedert sy bekendstelling verlede Dinsdag al meer as $300 miljoen (sowat R2,6 miljard) verdien in verkope wêreldwyd. Die vorige speletjie in die reeks, Halo:Reach, het net $200 miljoen (sowat R1,7 miljard) op sy openingsdag verdien, het Mashable.com berig.
“Ons is verheug dat Halo 4 as die Amerikaanse vermaaklikheidsbedryf se grootste bekendstelling van die jaar ontpop het,” het Phil Spencer, adjunkhoof van Microsoft Studios, gesê.
“Dankie vir die miljoene aanhangers wêreldwyd wat gehelp het om hierdie nog ‘n rekord-bekendstelling vir die Halo-reeks te maak.”
Die Halo-reeks het al meer as $3,38 miljard (sowat R29,7 miljard) wêreldwyd verdien, wat dit een van die gewildste videospeletjies in die wêreld maak.
– Volg Nuus24 op Twitter