Ietermagog kry eers katmelk
2011-09-28 08:11
Johannesburg – Twee kritieke maande lê vir Syd, die ietermagog-baba van Limpopo, voor.
Dié ietermagoggie (Manis temminckii) is nou sowat vier maande oud en weeg net meer as 1 kg.
Syd en sy ma is ’n bietjie meer as ’n maand gelede vermoedelik in die Tzaneen-omgewing gevang, in ’n sak gestop en in dié dorp te koop aangebied.
Volgens Louise Joubert van SanWild, wat Syd nou dag en nag – al om die vier uur – spesiale katmelk voer, het ’n veearts van Tzaneen op die mense met die diere in die sak afgekom en onmiddellik die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) daarvan in kennis gestel.
Ellie Potgieter van die NDBV in Tzaneen het Joubert van die twee ietermagogs vertel en hulle na SanWild gebring.
Joubert sê Syd se ma het aanvanklik “baie mooi” na hom omgesien, maar haar melk het vermoedelik weens die stres opgedroog.
“Die twee het erg gestres hier aangekom,” sê Joubert.
Joubert het aanvanklik saans met Syd en sy ma in die veld gaan stap in ’n poging om hulle in die natuur vry te laat.
Syd, wat aan sy ma vasgeklou het, het later afgeval en sy ma het net aanhou stap.
Dis toe dat Joubert besef sy sal dié wees-ietermagog moet probeer groot kry.
Syd het so ’n maand gelede net 300 g geweeg. Hy weeg nou 1 kg en is al 39 cm lank.
Hy kry elke vier uur melk deur ’n spuitjie. Joubert sê Syd laat net vir háár toe om hom te voer. “As hy my stem hoor, rol hy hom oop.”
Joubert probeer nou vir Syd sover kry om termiete te begin vreet.
Sy het al termiete voor hom neergesit, maar hy het nie juis belangstelling in hulle getoon nie. Sy hoop om Syd eendag terug te plaas in die natuur.
Volgens literatuur het geen ietermagog nog langer as ses maande in gevangenskap oorleef nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld