Identiese vierling as 'wonderwerk' beskryf
2012-01-26 12:04
Duitsland – Dokters by ‘n kliniek in die ooste van Duitsland het die geboorte van vier identiese dogtertjies as ‘n wonderwerk beskryf.
Laura, Sophie, Jasmin en Kim was 10 weke prematuur, maar dokters by die University Clinic Leipzig sê hulle kanse op oorlewing is goed.
Die vier is natuurlik verwek en is met behulp van ’n keisersnee gebore.
Elk van die meisies het met die geboorte op 6 Januarie ongeveer 1 000 g geweeg en sal tot die datum wat vir hul geboorte geskeduleer was, in die prematuur-baba-eenheid van die hospitaal bly.
Die verloskundige, prof. Holger Stephan, sê die 31-jarige ma is in goeie gesondheid.
Identiese vierlinge is baie skaars. Volgens Stephan is die kanse dat mens geboorte skenk aan ‘n identiese vierling een uit 13 miljoen.
“Dit is baie onwaarskynlik dat ‘n vierling natuurlik verwek word en dan ontwikkel om gesonde babas te word.”
‘n Identiese vierling word gevorm wanneer ‘n bevrugte eiersel kort ná bevrugting in vier deel.
Die embrio’s ontwikkel in aparte amniotiese sakke en deel dieselfde plasenta.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA