Hy ry 10 000 km ver met sonkrag
2010-07-08 12:57
Beeld
Afrikane is in ’n groter mate as Europeërs gereed om die gebruik van alternatiewe energiebronne soos sonkrag, windkrag en elektriese motors aan te gryp.
So het Xavier van Stappen van België Woensdag in Pretoria gesê nadat hy in Suid-Afrika aangekom het.
Hy het in ’n prototipe van ’n elektriese motor gereis van Kopenhagen in Denemarke tot in Ghana. Daarna het hy na Johannesburg gevlieg om hier te wees tydens WB 2010.
Van Stappen het dié tog van meer as 10 000 km as deel van sy Kop-tot-Kaap-toer aangepak om mense in te lig oor die gebruik en voordele van alternatiewe energieë.
Kop tot Kaap verwys na Kopenhagen en Kaapstad, maar toe Van Stappen Ghana bereik het, het hy besluit om na Suid-Afrika te vlieg om die res van sy toer in die laaste week van WB 2010 hier voort te sit.
“Dit is die eerste keer dat so ’n groot sportgebeurtenis in Afrika gehou word en omdat dit ’n uitstekende simbool is van die oordrag van tegnologie en ontwikkeling van die Weste na Afrika het ek besluit om tydens WB 2010 hier van Johannesburg na Kaapstad te ry,” het Van Stappen gesê.
Hy het verlede jaar ’n soortgelyke reis genaamd die Dakar-geen-olie-toer van Brussel na Dakar in sy eerste prototipe van ’n elektriese motor voltooi.
Die tweede prototipe waarmee hy deur 25 lande tot in Ghana gereis het, bestaan uit die aangepaste romp van ’n sweeftuig se kajuit, twee herlaaibare litium-polimeer-batterye, ’n stuurstelsel, ’n elektriese enjin, drie wiele en ’n sonpaneel op die dak.
Sy motortjie weeg sowat 80 kg en het ’n topspoed van 110 km/h.
“Ek ry gemiddeld so 80 km/h en ek kan omtrent 400 km ry voordat ek batterye moet omruil,” het Van Stappen gesê.
Terwyl een battery die motortjie aandryf, laai die sonpaneel op die dak die ander een.
Vincent Pierart het die Kop-tot-Kaap-toer in ’n normale voertuig saam met Van Stappen aangepak om die reis te verfilm en tegniese steun te verleen.
Van Stappen het gesê Afrikane is baie gemakliker oor die idee van alternatiewe energieë as “konserwatiewe” Europeërs.
“Fossielbrandstowwe veroorsaak erge besoedeling en konflik in die wêreld, maar omdat Europeërs baie konserwatief is, is dit baie moeilik om hulle te oorreed om alternatiewe energiebronne te begin gebruik,” het hy gesê.
“Oral waar ek in Afrika kom, selfs in die mees afgeleë dele, weet die mense reeds van sonkrag en sonpanele omdat hulle dit noodgedwonge moes begin gebruik omdat daar dikwels nie elektrisiteit is nie,” het hy gesê.
Besoek www.coptocap.org.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld