Huisgenoot breek rekord op Facebook
2010-10-29 14:39
Kaapstad – Huisgenoot het pas media-geskiedenis gemaak deur die 100 000-kerf vir aanhangers op Facebook verby te steek.
Nie sleg vir ’n Facebook-blad wat eers in die middel van verlede jaar begin is en aan die begin van vanjaar nog net sowat 3 000 aanhangers gehad het nie...
En nou het Huisgenoot, die grootste weeklikse tydskrif in die land, ook by verre die meeste aanhangers op Facebook in die Suid-Afrikaanse mediabedryf.
Maar hoe het dit gebeur dat die oudste tydskrif in die land op die ryp ouderdom van 94 daardie hipermoderne sosiale verskynsel van die elektroniese era, Facebook, betree het en so gou soveel welslae behaal het?
Die sterkte van die Huisgenoot-handelsmerk en ’n paar terloopse vrae aan ons Facebook-vriende soos wat hul hond se naam is, het die knoop help deurhak, vertel Wilmer Müller, Huisgenoot se aanlynredakteur. In Februarie het hy gesien hier kom ’n ding.
‘‘Toe ek weer sien, was daar skielik 5 000 aanhangers, en toe ek my oë uitvee, was die maand skaars om of daar was skielik 10 000 aanhangers. Nooit het ons gedink dit sal so vinnig gebeur nie.
‘‘Ek het uit die staanspoor sogenaamde sosialenetwerk-kenners se raad geïgnoreer omdat ek besef het Huisgenoot se Facebook-blad sal uniek moet wees,’’ verduidelik hy.
“Ons het lesers laat voel hulle kan deel in wat ons hier by Huisgenoot op ’n daaglikse basis doen en deur Facebook kan ons ook elke dag letterlik ’n Huisgenoot vir hulle wees.’’
Waar jy ook al in die wêreld is, jy kan in die plesier van Huisgenoot deel, vertel Wilmer.
‘‘Mense wat nie by musiekfeeste kan wees nie, kan deur ons updates soos met Skouspel deel daarvan wees. Met ons onlangse Tempo-toekenningsaand het ons video’s opgeneem en regstreekse terugvoer op ons webtuiste geplaas en daardeur lesers deel van die aksie laat voel.
‘‘Daar is nog ruimte vir heelwat groei. As jy kyk na die spoed waarteen Facebook self as medium groei en die nisrol wat Huisgenoot as ’n Afrikaanse handelsmerk in die wêreld speel, is dit merkwaardig.
“So lank soos Afrikaans lewendig is, sal ons Facebook-groep van die lewendigste op die internet wees.’’
Vir meer oor Huisgenoot, kliek hier.
- Huisgenoot