Hoodia-plant demp toe nie eetlus – studie
2011-11-02 08:08
Johannesburg – Hul Hoodia gordonii-eetlusdemper het gelei tot newe-effekte soos braking en vreemde velsensasies, ’n verhoogde bloeddruk en hartklop en het nie vroue se eetlus beter as ’n skynmiddel gedemp nie.
Dit was hoekom die maatskappy Unilever ná ’n kliniese proefneming besluit het om dié eg Suid-Afrikaanse eetlusdemper van die Kalahari nie verder te ontwikkel nie.
Die proefneming waarvan die resultate vandeesmaand in die American Journal of Clinical Nutrition gepubliseer is, werp lig op Unilever se onttrekking aan dié projek al het hy meer as R220 miljoen daarin belê.
Die Hoodia gordonii-plant (ook bekend as ghaap) was die laaste paar jaar gereeld in die nuus nadat die WNNR P57, die plant se aktiewe bestanddeel, in 1995 gepatenteer het.
Die WNNR het die plant ondersoek omdat sommige San-mense dit eeue lank in die veld gebruik het, glo as eetlusdemper.
Die WNNR het beweer P57 is verantwoordelik vir die onderdrukking van eetlus en het ’n ooreenkoms met die San-mense gesluit om in die opbrengs te deel as ’n eetlusdemper ontwikkel word.
Die Britse biotegnologiemaatskappy Phytopharm het die regte om ’n produk te ontwikkel later gekoop en dit aan die farmaseutiese maatskappy Pfizer gelisensieer. Daar het egter niks van gekom nie en Unilever het betrokke geraak.
Die maatskappy het hom egter in 2008 onttrek en in ’n verslag gesê: “Kliniese studies toon produkte met hoodia sal nie aan ons streng standaarde vir veiligheid en doeltreffendheid voldoen nie.”
49 vroue, almal oorgewig, het 15 dae lank aan die Unilever-studie in Madison, Wisconsin, in die VSA, deelgeneem.
Een groep het ’n jogurtdrankie met 1 110 mg hoodia gekry en die res ’n jogurtdrankie met ’n skynmiddel (plasebo).
Die navorsers kon geen verskil tussen die eetlus van die twee groepe vroue sien nie.
Die vroue wat die hoodia ingekry het, het simptome soos naarheid, braking en vreemde velsensasies gehad en hul polsslag, hartklop, bloeddruk en bilirubienvlakke (’n aanduiding van moontlike lewerprobleme) het beduidend gestyg.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld