Honderde robwelpies spoel uit in Nederland
2012-01-12 18:58
Amsterdam – Storms wat die Nederlandse kus die afgelope jaar geteister het, het veroorsaak dat groot hoeveelhede robwelpies – sommige so jonk dat hul naelstringe nog aan hulle vas was – op strande uitgespoel het.
‘n Bestaande bewaarplek vir robbe naby die noordelike stad Groningen is in onlangse weke so oorval met welpies en ouer robbe dat ‘n tydelike tent opgerig is om hulle in te huisves totdat hulle gesond genoeg is om terug in die natuur gelaat te word.
‘n Amerikaanse vrywilliger, Torrey Utne, het Donderdag gesê dat meer as 100 robbe in die afgelope 10 dae na die sentrum geneem is vir behandeling.
Baie van hulle is jong welpies wat as “skreeuers” bekendstaan, as gevolg van hul skril skreegeluide.
Volgens Utne is hulle “klein babatjies wat hulle ma’s mis”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP