Hollywood-regisseur bereik diepste punt op aarde
2012-03-26 12:10
Honolulu – Die Hollywood-regisseur James Cameron het sy reis na die aarde se diepste punt voltooi.
Die regisseur van Titanic, Avatar en ander films het ‘n spesiaal ontwerpte duikboot gebruik om byna sewe myl (11,27 km) diep te duik.
Hy het tyd daar deurgebring om die Mariana-trog, wat sowat 322 km suidwes van die Stille Oseaan-eiland Guam is, te verken en verfilm, het lede van die National Geographic-ekspedisie gesê.
Cameron het Maandagoggend weer die oppervlak van die Stille Oseaan bereik, het Stephanie Montgomery van die National Geographic Society gesê.
Sy terugtog van 70 minute na die oppervlak was vinniger as wat verwag is, het National Geographic gesê.
Die Mariana-trog is 120 keer groter as die Grand Canyon en meer as ‘n myl dieper as wat Mount Everest hoog is.
Cameron het die tog in sy lemmetjiegroen duikboot van 12 ton met die naam “Deepsea Challenger” aangepak.
Die Switserse ingenieur Jacques Piccard en Don Walsh, ‘n Amerikaanse vlootkaptein, is die enigste ander wat die trog al bereik het.
Hulle het sowat 20 minute daar deurgebring tydens hul duiktog in 1960, maar hulle kon nie veel sien nie omdat hulle duikboot sand op die seebodem opgeskop het.
Een van die risiko’s van so ‘n diep duik is die ekstreme waterdruk. Teen byna 11 km onder die oppervlak is die druk op 'n area so groot soos 'n mens se toon, gelykstaande aan dié van drie bakkies.
Cameron het ná ‘n oefensessie van 8,2 km naby Papua-Nieu-Guinee vroeër die maand aan die Associated Press gesê die druk “is agter in jou gedagtes”.
Die duikboot sal binne ‘n oomblik inplof as dit lek, het hy gesê.
Alhoewel hy effens bekommerd was voor die tog, was Cameron nie bang of senuweeagtig terwyl hy onder die water was nie.
“Wanneer jy besig is met die duik moet jy vertrou dat die ingenieurswerk reg gedoen is,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP