Hitte-uitputting eis tweejarige boerboel op staptog
2011-12-31 10:12
Kaapstad – ’n Lewenslustige 2-jarige boerboel se laaste staptog het gisteroggend tragies geëindig toe hy aan hitte-uitputting dood is.
Simba se eienaar, me. Marietjie Koekemoer van Welgedacht, doen nou beroep op eienaars om te keer dat ander honde op dié manier doodgaan.
“Baie van ons stap nou in die vakansie in die dag met ons honde, maar onthou hulle kan doodgaan nadat hulle aan te veel hitte blootgestel is. Simba was fiks en as ek sy leiband uitgehaal het, het hy behoorlik gebokspring van opgewondenheid. Moet nooit met jou hond gaan stap in die hitte van die dag nie. Selfs ’n kilometer op ’n warm teerpad is vir hulle dodelik.”
Koekemoer het gesê die hitte van die grond waarop honde hardloop, verhinder dat hulle sweet en afkoel en ’n warm teeroppervlak verhit hul lywe net verder.
“Simba het gewoonlik elke poeletjie water langs die pad ná ’n reëndag besoek, hom behoorlik daarin verdrink en met sy pote vierkantig in die poel gaan staan.” Woensdag het Simba inmekaargesak op ’n teerpad.
“Die warm teer moes sy temperatuur verder opgestoot het. Ek besef nou ek moes ’n motor gestop het vir hulp.”
Wat om te doen as jou hond aan hitte-uitputting ly:
- Die belangrikste is om die hond in die skaduwee te kry;
- Koel die hond af deur hom nat te spuit of in ’n bad water te plaas;
- Moenie verwag die hond sal sommer net water kan drink nie; hy is net te uitgeput en moet eerder natgemaak word om sy liggaamstemperatuur te verlaag; en
- Neem die hond na ’n veearts.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad