‘Hidrobreking se invloed onomkeerbaar’
2011-08-17 09:02
Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse regering staan voor ’n massiewe besluit oor hidrouliese breking met onomkeerbare gevolge vir die toekoms van die land en sy inwoners, meen die Treasure the Karoo-aksiegroep (TKAG).
Jonathan Deal, die voorsitter van die TKAG, het dit duidelik gemaak dat die groep nie gekant is teen die brekingsproses as sodanig nie, berig Landbouweekblad.
Hulle is egter gekant daarteen dat met die kontroversiële mynmetode in die Karoo begin word sonder dat die nodige navorsing daaroor gedoen is.
Deal het gesê die TKAG is baie gefrustreerd met Susan Shabangu, die minister van minerale hulpbronne, en haar departement weens gebrekkige kommunikasie tussen nie-regeringsorganisasies en die media oor moontlike skaliegasontginning in die Karoo.
“Ons het ’n paar maande gelede daarin geslaag om met Shabangu ’n afspraak te maak, maar sy het op die laaste nippertjie gekanselleer, terwyl ons reëlings reeds getref was en ons amper op pad was,” het Deal gesê.
Dit terwyl Bonang Mohale van Shell Maandag in ’n onderhoud op SAfm gesê het Shell is in “konstante gesprek” met die regering oor sy planne in die Karoo.
Dit het vrese laat opvlam dat die regering agter die skerms met Shell saamwerk om die eksplorasie en ontginning van skaliegas in die Karoo goed te keur.
– Lees die volledige storie hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Landbouweekblad