Hewlett-Packard klaar met tabletrekenaars
2011-08-19 14:14
New York – Hewlett-Packard, die wêreld se grootste vervaardiger van rekenaarhardeware, het aangekondig hy sal sy vervaardiging van tabletrekenaars en selfone staak.
HP het ook aangekondig hy sal moontlik sy rekenaarafdeling verkoop, berig Huffington Post.
Die berig lui die maatskappy sal hul aandag voortaan op die vervaardiging van sagteware fokus.
HP het die groot skuif aan verbruikersvoorkeure toegeskryf.
“Daar is ‘n duidelike nuwe tendens onder verbruikers,” het die maatskappy se hoof, Léo Apotheker, erken. “Tabletrekenaars se effek op die mark is ‘n merkbare realiteit.”
Meer as ‘n jaar gelede het die hoof van Apple, Steve Jobs, gespekuleer verbruikers beweeg uit die era van die tafelrekenaar na een waar tabletrekenaars koning sal kraai.
HP se teenstaander vir die iPad, die TouchPad, het egter nie so goed verkoop soos die Apple-produk nie.
Slegs 25 000 van die 270 000 eenhede wat aan die Amerikaanse elektronikaverkoper BestBuy verskaf is het huis gekry.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.