Happy Feet gly-gly ‘te water gelaat’ in Suidsee
2011-09-05 09:28
Wellington – 'n Antarktiese keiserpikkewyn wat meer as 3 000 km ver na Nieu-Seeland geswem het nadat hy rigting verloor het, is gister in die Suidsee vrygelaat.
Happy Feet, soos die pikkewyn heet, het in Junie van sy tuiste in Antarktika na die Peka Peka-strand, noord van Wellington in Nieu-Seeland, geswem.
Hy is op die strand gevind waar hy sand gevreet het wat hy vir sneeu aangesien het. Ná talle operasies is die sand, stokkies en klippies uit sy maag verwyder. Hy het sedertdien by die Wellington-dieretuin aangesterk.
Happy Feet is sover bekend die eerste keiserpikkewyn in meer as 40 jaar wat van Antarktika na Nieu-Seeland geswem het.
Hy het gister op ’n waterglybaan van ’n navorsingskip die water ingegly. Hy moes eers ’n bietjie aangemoedig word om uit die krat waarin hy ses dae op die skip gebly het, te kom.
Die skip Tangaroa het ses dae gelede van Wellington vertrek en die pikkewyn gister vrygelaat naby die Campbell-eiland, Nieu-Seeland, waar die see 285 m diep is.
Die drie jaar oue pikkewyn het ’n opsporingstoestel waarmee sy reis per satelliet dopgehou word.
Besoek www.wellingtonzoo.co.nz, www.sirtrack.com of www.ourfarsouth.org.
– Die Burger
- Sapa-DPA