HTC laat Apple op sy neus kyk
2012-07-05 14:45
Taipei – HTC, Taiwan se voorste slimfoonvervaardiger, het Donderdag breed geglimlag oor 'n Britse hofuitspraak wat bepaal dat hy nie die Amerikaanse maatskappy Apple se patentereg misken het nie.
Die hooggeregshof in Londen het beslis dat HTC nie Apple se patentereg op 'n fotobestuursfunksie misken het nie, en het boonop beslis dat drie van Apple se patente – 'n patent vir 'n skermskut (wat werk deur die vinger daaroor te gly), multi-raakskerms (die vermoë om 'n skerm met meer as een vinger te beheer) en veeltalige toetsbord – nie geldig is nie.
"HTC is tevrede met die beslissing, wat 'n verdere bevestiging is dat Apple se eise teen HTC sonder meriete is," het die maatskappy in 'n verklaring gesê.
"Ons is steeds teleurgesteld oor die feit dat Apple mededinging in die hof bo mededinging in die mark verkies."
HTC maak sy eie slimfone, en vervaardig ook selfone vir verskeie ander Amerikaanse maatskappye. Die maatskappy vervaardig onder andere Google se Nexus One-slimfoon.
'n Woordvoerder vir Apple wou nie op die spesifieke saak kommentaar lewer nie, maar het gesê "ons dink mededinging is gesond, maar mededingers moet hulle eie, oorspronklike tegnologie skep en nie ons s'n steel nie".
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP