H5N2: Boere soek alternatiewe
2012-01-06 08:33
Oudtshoorn – Al hoe meer boere in die Klein-Karoo begin na alternatiewe vir volstruisboerdery soek, veral in die lig van die H5N2-virus, oftewel voëlgriep, wat die volstruisbedryf al nege maande lank verlam.
Hein Jonker, deel van die Saag Jonker-groep wat toonaangewende volstruisboere in die Klein-Karoo is, boer sedert 2005 met nguni-beeste.
“Ek het ongeveer 240 koeie wat tans by die bulle loop en ons kalfpersentasie is redelik bokant 90%,” vertel hy.
“Baie van die boere in die Klein-Karoo ken nog nie die nguni-ras nie en weet nie van sy voordele nie. Ek kry elke maand al hoe meer navrae van boere wat nguni’s wil koop en deel van hul boerdery wil maak.”
Hy beskou die Klein-Karoo as ’n semi-woestyn en het dus na ’n beesras gesoek wat in droogtetye sal reproduseer ten spyte van beperkte of min weiding.
“Ons veld is in die verlede hoofsaaklik vir broeivolstruise gebruik, maar ons het ter wille van veldbewaring besluit om eerder beeste aan te hou. Nguni is waarskynlik die beste ras vir ons soort veld.”
Hy is van mening dat nguni’s nie op lusernlande behoort te loop nie. “Ander rasse, soos bonsmara, sal waarskynlik op sulke goeie weiding beter vaar, maar niks gaan die nguni klop op ons veld en lande met swakker weidings nie, veral nie met die volgende droogte nie.”
Nguni’s is ook ’n goeie keuse wanneer dit by bemagtigingsprojekte kom. “Dit is moeilik om suksesvolle bemagtigingsprojekte met volstruise te ontwikkel as gevolg van die koste, arbeid, uitgebreide infrastruktuur en gespesialiseerde kennis met betrekking tot grootmaak en siektes.
“Dan praat ek nie eens van die risiko’s soos vrektes, wisselende markpryse en skommelende wisselkoerse en die onlangse H5N2-virus wat die vleis-uitvoermarkte reeds nege maande gesluit hou nie.” Daar word steeds gewag op uitslae van die sewende reeks toetse wat sal bepaal of uitvoer hervat kan word.
Hy het gesê dit is maklik om met nguni’s te boer.
“Hulle het geen behandeling nodig nie. Die enigste tyd wanneer hulle in die kraal hanteer word, is wanneer die koeie vir dekking uitgesoek en in verskillende troppe verdeel word, en wanneer die kalwers gespeen word.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger