Grootvoete het gespeel in die water – kenners
2011-07-08 08:46
Kaapstad - “Ek het al ’n volwasse olifantbul gesien wat só lekker in die water speel dat hy onderstebo was met vier pote in die lug.”
Só vertel dr. Joyce Poole van die organisasie Elephant Voices, wat al 30 jaar lank in Kenia navorsing oor olifante doen, in reaksie op die artikel en foto gister in Die Burger van twee olifante wat in die noorde van Botswana in die water speel.
Die foto wys hoe die olifante unieke golfpatrone op die water veroorsaak deur saam op en af te beweeg.
Poole het gesê olifante is die beste swemmers van alle land-soogdiere. “Ek dink hulle het gespeel. Ek het al baie gesien hoe olifante in die water op en af spring.”
Prof. Rudi van Aarde, voorsitter van die eenheid vir bewaringsekologie aan die Universiteit van Pretoria, het by navraag gesê hy het ook al gesien olifante dobber in die water, maar nog nooit dat sulke rimpels in mooi sirkels gevorm word nie.
In sommige studies oor die vroeë ontwikkeling van olifante se niere en longe is die afleiding gemaak dat hulle van ’n dier afstam wat die meeste van sy tyd in die water deurgebring het. Vandaar die idee dat die slurp dalk as ’n snorkel kon ontwikkel het, het Van Aarde gesê.
Prof. Bob Slotow, adjunk-visekanselier van die Universiteit van KwaZulu-Natal en ’n olifantkenner, meen ook die twee olifante het gespeel eerder as kos gesoek.
“Soos met ander diere is speel ’n belangrike deel van hul ontwikkeling en algemene welstand,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger