Groot skool toe met nuwe neus
2010-11-19 07:38
Durban. – Wanneer Riaan Terblanche volgende jaar vir die eerste keer deur die hekke van die “groot skool” stap, gaan hy seker die enigste kind wees wat met ’n splinternuwe neus kan spog.
Die voorste deel van die neus van dié sesjarige seuntjie van Bethlehem is in ’n ongeluk in ’n hospitaal weggebrand toe hy skaars vier uur oud was.
Hy het by geboorte asemhalingsprobleme gehad en is aan ’n suurstoftoestel gekoppel, maar die masjien se temperatuur was te hoog en het die plastiekpyp gesmelt wat in sy neus was. Die uiteinde was dat sy neus tot by die brug weggebrand het.
Aan die linkerkant was sy neusopening tot onlangs toe so dun soos ’n naald, het sy pa, Riaan Terblanche sr., Donderdag vertel.
Prof. Fred Jooste van die departement plastiese chirurgie aan die Universiteit van die Vrystaat het die neusopening vergroot.
Die afgelope week het Peter Furber van die Durbanse Universiteit van Tegnologie (DUT) se departement tandheelkundige tegnologie vir klein Riaan ’n neusprostese gemaak met die hulp van mnr. Neil Waddell, ’n oudkollega.
Voorheen moes ’n stuk gaas oor die seuntjie se neusholte geplak word wanneer hy kleuterskool of dorp toe gegaan het om ’n moontlike infeksie te keer.
Die DUT is een van slegs twee of drie instellings in die land waar sulke prosteses gemaak kan word. Furber het die eerste gesigprostese in 1997 by die DUT gemaak.
In die laaste vyf tot sewe jaar het die departement baanbrekerswerk in navorsing in dié veld gedoen.
Die prostese vir Riaan se neus het die DUT R10 000 gekos en sal elke 18 maande vervang moet word totdat hy 16 jaar oud is.
Dan sal hy volgroeid genoeg wees dat bestaande metodes gebruik kan word om vir hom ’n neus met kraakbeen te skep en oor te plant, het mnr. Grant Somers, hoof van die departement, gesê.
Terblanche sal by sy seun se gr. 1-klas gaan verduidelik hoekom sy neus is soos dit is, nes hy twee jaar gelede by die kleuterskool gedoen het.

Soos ’n nuwe sikspens ... Riaan Terblanche (6) glimlag breed oor die neus wat mnr. Peter Furber (links) van die Durbanse Universiteit van Tegnologie hom gegee het.
Foto:Dries Liebenberg
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld