Groot kontantinspuiting vir Twitter
2011-08-02 12:17
New York – Die vyf jaar oue sosiale netwerk Twitter het nog 'n groot kontantinspuiting gekry in die vorm van 'n "aansienlike" befondsingsrondte gelei deur die waagkapitaalfirma DST Global, berig CNN.
Twitter het nie bekendgemaak presies hoeveel DST Global belê het nie, maar het sy sertifikaat van inkorporering aangepas om die uitreiking van 25 miljoen nuwe aandele in die maatskappy moontlik te maak. Dié aandele is volgens CNN verkoop teen 'n prys van $16 per aandeel (sowat R107).
Dít beteken die maatskappy kan sowat $400 miljoen (sowat R2,6 miljard) in nuwe befondsing bekom, sê die waagkapitaalspesialiste VC Experts, wat 'n afskrif van die sertifikaat van inkorporering bekom het.
"Twitter is een van die min maatskappye wat werklik die wêreld verander het," het die stigter van DST Global, Yuri Milner, oor die nuus gesê.
Volgens die tegnologiewebwerf AllThingsD kom Twitter se waarde ná die laaste kontantinspuiting op $8 miljard (R53 miljard) te staan.
Twitter, met sy hoofkantoor in San Francisco, het gesê die ekstra geld sal gebruik word om meer werknemers in diens te neem, om op internasionale vlak te groei en om "aggressief te innoveer."
– Lees hier meer.