Groot Koraalrif 'erg afgeskeep'
2012-10-03 10:57
Sydney – Australië se regering het erken dat die Groot Koraalrif dekades al afgeskeep word, ná ‘n verslag getoon het dat die rif oor die afgelope 27 jaar meer as die helfte van sy koraal verloor het.
Tony Burke, minister van omgewingsake, het gesê inligting wat in die verslag deur die Australiese Instituut van Mariene Wetenskap gedeel is, behoort die land onrustig te stem.
“Ek reken dat die verslag skokgolwe deur ‘n hele paar huise gestuur het,” het Burke aan ABC gesê.
“Ons almal het al gehoor van die skade wat die rif gely het, maar ek dink daardie 50%-syfer het dit vir almal duidelik gemaak hoe erg die probleem is.”
Australië se top-toeriste-aantreklikheid het die afgelope 27 jaar die helfte van sy lewende koraal verloor.
Altesaam 42% van die skade is veroorsaak deur 'n enkele seesterspesie, die doringkroon-seester (Acanthaster planci) terwyl 48% van die skade deur tropiese siklone veroorsaak is.
Die verslag het ook aangedui dat die koraal teen 2022 weer die helfte minder kan wees.
“As ons die kwessies beter hanteer het, sou ons nou in ‘n baie beter situasie gewees het,” het Burke gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP