Groepe kap na SA oor koolstofspoor
2011-11-29 07:00
Durban – Die Verenigde Nasies (VN) het Suid-Afrika Maandag hier op die 17de klimaatberaad (COP17) geroskam oor sy massiewe koolstofvoetspoor.
Francois D’Adesky, direkteur van die VN se nywerheidsorganisasie (Unido), het gesê Suid-Afrika word deur geweldige uitdagings in die gesig gestaar omdat die land per capita die grootste koolstofvoetspoor ter wêreld het. “Suid-Afrikaners se koolstofvoetspoor is groter as dié van Amerikaners en selfs groter as van dié van die Chinese.
“Ek is jammer om dit te sê, maar Suid-Afrika se mededingendheid, produktiwiteit en groei kom hiermee in die gedrang.”
Volgens D’Adesky was die koolstofvoetspoor van verlede jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi die grootste in die geskiedenis van enige internasionale geleentheid.
“En tog het Suid-Afrika daarna gestreef dat dit koolstofneutraal moes wees.”
Dié geleentheid se koolstofvoetspoor was agt keer groter as die toernooi wat in 2006 in Duitsland gehou is.
D’Adesky het aan sowat 200 afgevaardigdes gesê die grootste sondaars is 138 nywerhede in Suid-Afrika wat meer as 40% van die land se krag gebruik.
“Hierdie nywerhede is intensiewe gebruikers van steenkool.”
D’Adesky het verwys na die reuse-kragonderbrekings in 2007 en 2008 in Suid-Afrika en gesê dié krisis het die land R50 miljard gekos en meer as 7 000 mense het hul werk verloor.
Unido het besluit om Suid-Afrika by te staan om sy koolstofvoetspoor te verklein en groen nywerhede te skep. Suid-Afrika het aangetoon die land streef na ’n groener toekoms en Unido het ingespring om te help. Unido help Suid-Afrika byvoorbeeld om die kragverbruik in van sy staatsgeboue te verminder.
Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika besig is met wetgewing oor die oorskakeling na hernubare energie. Teen 2030 moet 27% van Suid-Afrika se krag van hernubare energiebronne afkomstig wees.
Suid-Afrika het ook met ’n strategie begin om krag meer effektief te gebruik. Teen 2015 moet 12% krag (gemeet teen die huidige verbruik) gespaar word en teen 2030 minstens 30%.
Suid-Afrika het ook Maandag hier onder skoot gekom van ’n nieregeringsorganisasie wat meen “Suid-Afrika loop links, maar praat regs”.
Bobby Peek, direkteur van groundWork, het op ’n nuuskonferensie wat deur Friends of the Earth International (FoEI) aangebied is, gesê Suid-Afrika “hou homself baie groen” by COP17, maar in der waarheid is dit ’n land wat steenkoolmyne in sensitiewe gebiede steun, wat na verwagting die groen lig gaan gee vir hidrobreking in die Karoo en wat (Sasol se) steenkool-tot-brandstof-tegnologie “omhels”.
Volgens Peek het Suid-Afrika ook sy krag weggeteken deur kontrakte vir goedkoop elektrisiteit met mynreuse en nywerhede, soos BHP Billiton, te sluit.
“Suid-Afrika praat met ’n gevurkte tong.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld