Groentapyt wag op COP17
2011-11-28 09:00
Durban – Die stad het ’n groentapyt uitgerol vir die geraamde 25 000 omgewingsaktiviste, regeringsonderhandelaars, ministers en staatshoofde wat die naweek vir die volgende twee weke se COP17 hier begin opdaag het.
’n Projek is die naweek begin om Durban se gedeelte van die koolstofvoetspoor van COP17 (die ekwivalent van sowat 15 000 ton koolstofdioksied) te neutraliseer deur die rehabilitering van die Umbilorivier wat van Kloof deur verskeie arm woonbuurte tot by die hawe vloei.
Gratis busdienste vir afgevaardigdes word ook van die lughawe na die stad en van sentrale punte in die stad na die verskillende COP17-sentrums verskaf. Die stad het ook 600 fietse gratis tot afgevaardigdes se beskikking gestel wat eerder ’n bietjie van hul eie energie wil verbrand om die beraad by te woon as om op voertuie se fossielbrandstof aangewese te wees.
Selfs die water wat vir afgevaardigdes in die Inkosi-Albert Luthuli- Internasionale Konferensiesentrum voorgesit word, is “groener”. Kraanwater is in bekers op tafels verskaf in plaas van gebottelde water wat heelwat meer energie in die produksieproses verbruik.
Intussen het die vereniging vir lugverkeerbeheerders en die lughawemaatskappy (Acsa) projekte begin om te verseker die aankoms van afgevaardigdes op die Internasionale Lughawe Koning Shaka verloop glad. Huurvlugte het verlede jaar tydens ’n halfeindstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi chaos op die lughawe veroorsaak.
Volgens Percy Morokane, woordvoerder van die lugverkeerbeheermaatskappy (ATNS), gaan die Durbanse lughawe die meerderheid van COP17 se aankomste hanteer en is daar uit die probleme van die verlede geleer.
“Die norms en standaarde van IATA gaan toegepas word,” het hy gesê.
Alle gehalte-verblyfplekke in Durban is die volgende twee weke volbespreek en afgevaardigdes het selfs so ver soos Ballito aan die Noordkus, Pietermaritzburg in die Middellande en die Suidkus verblyf bespreek, het mnr. Warren Ozard, bedryfshoof van Fedhasa in KwaZulu-Natal, gesê.
Nogtans is in die gasvryheidsbedryf ooreengekom tariewe sal nie hoër as die normale piektydtariewe wees nie.
“COP17 beteken vir KwaZulu-Natal se toerismebedryf die beste somervakansie tot nog, omdat Gautengse skole eers middel Januarie heropen,” het Ozard gesê.
Volgens James Seymour, uitvoerende hoof van die Durbanse KwaZulu-Natal Convention Bureau, word geraam COP17 sal ’n verdienste van minstens R250 miljoen meebring.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad