Google+ gou op 10 miljoen lede
2011-07-15 19:00
Los Angeles – Die internetreus Google se nuwe sosiale netwerk Google+ het in die twee weke sedert sy ontstaan tot 10 miljoen gebruikers gegroei, het die maatskappy aangekondig.
Google+ se gemeenskap van 10 miljoen gebruikers is slegs sowat 1% so groot soos dié van Facebook, wat spog met 750 miljoen, maar Google is tevrede met die groei aangesien die nuwe sosiale netwerk sover slegs per uitnodiging beskikbaar is.
“Die groei wat ons by Google+ ervaar is wonderlik,” het die hoof en medestigter van Google, Larry Page, gesê. “Meer as 10 miljoen mense het reeds aangesluit.”
“Die netwerk is uiters aktief,” het Page bygevoeg.
Hy het gesê meer as ‘n miljard brokkies inligting word daagliks op die netwerk tussen gebruikers gedeel.
Die “+1”-knop wat vriende se aanbevelings in Google-soektogte insluit word meer as 2.3 miljard keer ‘n dag gekliek, het hy gesê.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.